Articles
Sport & School News
14 April 2017

Hurricanes vs Waratahs
Die Canes moes hard werk vir die oorwinning in Wellington en wen 38-28. Die Barret broers was op hulle stukke met puik spel. Die Canes speel volgende teen die Blues in Auckland met die Tahs wat ‘n blaaskans kry.

Sunwolves vs Bulle
Skokgolwe oor die planeet aarde ou grote, amper meer as 10 op die Richterskaal. Japan klop die Bokke twee jaar terug.. en daar kom die Sunwolves en klop die Bulle in Tokio met 21-20. Die Bulle speel volgende teen die Jaguares op Loftus en kan verseker nie baie ondersteuners verwag nie. Die Wolwe reis NZ toe om die Crusaders te gaan irriteer in Christchurch.

Highlanders vs Blues
In Dunedin klop die Highlanders die Blues in ‘n klipharde Kiwi derby 26-20. Die Blues speel strate beter as verlede jaar en kon hierdie een gewen het maar die afronding is nog ‘n pro-bleem. Die Blues draf volgende teen die Hurricanes in Auckland uit met die Highlanders wat ‘n loslootjie het.

Brumbies vs Reds
Die Brumbies lewer hul beste vertoning van die seisoen en klop die Reds gemaklik 43-10. Die Brumbies het veral in die tweede helfte oorheers en teken 33 punte teen nul aan. Die Reds kom volgende teen die Kings in Brisbane te staan met die Brumbies wat teen die Rebels in Melbourne gaan uitdraf.

Haaie vs Jaguares
Hierdie game in die Haaitenk was oos ‘n armdruk kompetisie ou grote. Die Haaie het kopgehou en klop die Argentyne 18-13. Die Haaie se jong agterspelers het soos harde baarde uitgedraf – en die naam van André Esterhuizen moet genoem word. Hierdie is ‘n yster ou grote en hy is ook ‘n produk van KHS in Klerksdorp. Die Haaie verdien ook nou ‘n ruskans en speel oor twee weke teen die Rebels in Durban. Die Jaguares reis Loftus toe om te gaan smul aan rypgemaakte Bul filette.

Stormers vs Chiefs
Die Stormers tree as oorwinnaars uit in ‘n fantastiese rugga game ou grote. Die Stormers wen 34-26 en wen ook meer harte in die Kaap met hierdie puik oorwinning. Hulle is ook nou die enigste onoorwonne span, algeheel in die kompetisie. Die Stormers laat hulle nie boelie nie, en lê sodoende ‘n puik grondslag vir die agterlyn neer. Die Stormers gaan weer in ‘n hewige stryd wees en speel volgende teen die Leeus op Nuweland. Die Chiefs reis Bloem toe om teen die Cheetahs uit te draf.

Force vs Kings
Die konings van die houtlepel word toe deur die Force gewen in Perth met 46-41. Die Kings was op ‘n stadium met agt punte voor en kan hulle self skop dat hulle die een verloor het ou grote. Die Kings se volgende game is teen die Reds in Brisbane met die Force wat ‘n loslootjie geniet.

** Die skok aankondiging is gemaak dat twee SA spanne en een Aussie span onttrek word vir die 2018 seisoen. Die Cheetahs en die Kings gaan dus hulle plekke kwyt wees op die Superbus van 2018.

Nag ou grote…