Articles
Churches & NGO News
14 April 2017

KEUR 24 April 1987: deur Vincent Wynter in samewerking met Louis Liebenberg. 

Drie kruise teen ‘n dramatiese lug: oor die eeue heen het duisende kunstenaars diè oomblik in die Christelike geskiedenis op skilderdoeke, kerk mure, en brandglas vensters verewig. En die skeppers se verbeeldingsvlugte het vir miljoene gelowiges ‘n waarheid geword.

‘n Oppervlakkige waarheid, vergelykbaar met ‘n tragedie op televisienuus: dis skokkend, ja, maar tussen die kyker in sy leunstoel en die aaklige werklikheid is daar ‘n gaping veroorsaak deur oppervlakkige feite en die veralgemening van visuele beelde. Prentjies vertel nooit die hele storie nie.

In die geval van die Kruisiging vertel die geskrifte ook nie die volle verhaal nie. Omdat diè vorm van teregstelling so algemeen in die Bybelse tyd was, is die klein, verskriklike feite as oorbodig beskou: is jy dan ‘n vreemdeling in Jerusalem dat jy die dinge nie weet nie?

Maar vir die hedendaagse Christen is dit belangrik om te weet wat presies gebeur het, en met behulp van die mediese gegewens kan ons nou lig werp op die fisieke foltering van ‘n kruisiging wat die simbool van die Christendom geword het, is dus die verkeerde een.

Eers voel die soldaat vir die depressus, die holte vooraan die gewrig. Dan dryf hy ‘n swaar, vierkantige, spyker daardeur en diep in die dwarsbalk se hout in. Die handpalm is nooit hiervoor gebruik nie; die liggaam se gewig sou hierdie sagte vleis laat skeur het. Nou herhaal die soldaat hierdie prosedure met die ander gewrig, en hy maak seker dat die arms nie te styf span nie. Die veroordeelde moet ‘n bietjie kan beweeg om die foltering te vererger.

Die kruis word opgehys en in posisie geplant.

Nou word eers die linker- en dan die regtervoet geneem, en so oormekaar geplaas dat die knieë effens gebuig is. Dan slaan die soldaat ‘n spyker deur die middel van die voete se ronding in die regoppaal in. Die veroordeelde is gekruisig.

En toe Hy in sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloed druppels wat op die grond val– Lukas 22:44.

Die veroordeelde ervaar ‘n trauma so abnormaal dat “bloedige sweet” wel moontlik is. Die mediese naam daarvoor is hematidrosis: onder geweldige spanning kan haarbloedvate in die sweet organe breek, en dit veroorsaak dan ‘n mengsel van bloed en sweet.

Swaartekrag vertolk nou ‘n afgryslike rol in die veroordeelde se lyding. Hy begin stadig afsak, en dit plaas geweldige spanning op die vasgespykerde gewrigte. Die spykers in die gewrigte raak aan die medius of middel senuwees, groot senukolomme wat gevoel in die hande gee. Om hierdie skeurende strekkingspyn te probeer verlig, moet die veroordeelde sy volle opwaartse druk om die skeurende pyne in sy gewrigte te probeer verlig. En die pektoralis of groot bors spiere, die spiere waaraan die arms hang, is uiteindelik so uitgerek dat die interkostale of klein spiere tussen die ribbes nie meer kan saamtrek nie.

Wanneer dit gebeur, is die veroordeelde nie meer in staat om uit te asem nie. Hy kan nog lug in sy longe trek, maar sonder die samewerking van die interkostale of klein ribbe spiere kan hy nie van die koolsuurgas in sy longe ontslae raak nie.

Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los, my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my…

En nou begin die sak om die hart, die perikardium, vol vloeistof pomp. Die einde is naby.
Vader, in U hande gee Ek my gees oor!

Dit is volbring: ‘n soldaat steek sy lans tussen die veroordeelde se ribbes in om seker te maak dat die dood ingetree het en onmiddelik het daar bloed en water uitgekom. Dit is medies korrek: as gevolg van die skok en oormaat vloeistof in die hartsak, het hartversaking ingetree en die dood veroorsaak.

Drie kruise teen ‘n dramatiese lug: nee dit vertel glad nie die volle verhaal van die groot offerande op Golgota nie.