Articles
Crime & Accidents News
09 March 2018

Koster – ‘n Geliefde en jong mamma van Koster is Maandag, 26 Februarie, vermoor in haar huis deur ‘n vorige minnaar. 

Uzelda Slatter (24) is na bewering in die kop geskiet deur haar vorige minnaar, Jan Harm Koster (30). Hul verlowing wat onlangs op die rotse geëindig het, was deur naastes beskryf as stormagtig. Jan het in Pretoria gewoon. 

Hy kon na bewering nie die einde van hul verhouding aanvaar nie, en het haar gaan konfronteer by haar huis in Koster. Die twee het in ernstige argumente betrokke geraak – in oënskou van haar twee-jarige dogtertjie en 17-jarige familielid. 

Die situasie is klaarblyklik eers ontlont toe Uzelda se pa omstreeks 23h00 by die huis opgedaag het en Jan verjaag het. Sowat drie ure later het Jan weer sy verskyning gemaak. Hy het gesoebat dat sy hom in die huis moet inlaat. 

Jan het toe, na bewering, Uzelda deur die kop geskiet. 

Oomblikke later het die 17-jarige jong man vir Jan oorrompel en hom met sy eie vuurwapen doodgeskiet. Jan is op die toneel oorlede. Uzelda se dogtertjie het geslaap ten tye van die voorval.  

“Twee moordsake is geopen en word tans ondersoek. Die tienerseun is nie gearresteer nie, aangesien hy in noodweer opgetree het om homself en die tweejarige kind te beskerm,” aldus kaptein Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder. 

Ons betuig ons innige meegevoel aan die vriende en familie van die oorledenes. 

Share this article with a friend...