Articles
Crime & Accidents News
10 February 2017

Rustenburg – Wat gemaak nadat ‘n geliefde sterf en die misdaad- en/of ongelukstoneel jou in die oë staar? Wat gemaak as jy dit nie oor jou hart kan kry om ‘n toneel te betree waar ‘n geliefde hul laaste oomblikke spandeer het nie?

Hierdie is nie ‘n maklike gesprek nie. 
Meeste mense verkies om nie sélf ‘n misdaad- en/of ongelukstoneel skoon te maak nie, geheel en al verstaanbaar – maar wie kan help in so ‘n situasie?

Die Platinum Weekly koerant het vandeesweek ‘n onderhoud gevoer met Ettiène Aucamp en Janine Hansen. Díe twee, aan die stuur van CIA (Crime Incident Accident) Rustenburg, bied 24 uur per dag, 7 dae ‘n week, díe tipe dienste aan. 

“Ons bied ‘n wye verskeidenheid dienste aan insluitende misdaadtoneel opruimwerk, moord- en dood opruimwerk, bloed en dekomposisie opruimwerk en waar nodig ook herstelwerk en opknappingswerk,” aldus Ettiène Aucamp, eienaar van CIA Rustenburg

“Vir enige persoon wie iemand aan die dood afgestaan het, is die skoonmaak van die toneel ‘n bleek vooruitsig,” sê Janine Hansen, bestuurder van CIA Rustenburg. Hierdie span werk hand-aan-hand met die Polisie, noodpersoneel en betrokke instansies. Persoonlike gebeurtenisse word met oorleg, respek en flink diens hanteer. CIA Rustenburg is gebaseer in Rustenburg, maar hul operasie strek regoor die Noordwes asook Limpopo provinsie. 

“Buiten díe ooglopende dienste, strek die voordele om van ons dienste gebruik te maak heelwat verder. Tonele waar iemand oorlede is, is ook ‘n gesondheidsrisiko vir díe in die onmiddellike omgewing. As daar nie van die korrekte voorsorgmaatreëls, skoonmaakmiddels, kleredrag en tegnieke gebruik gemaak word nie, is dit ‘n gesondheidsrisiko,” sê Aucamp. 

Aan diegene in noue kontak met die oorledenes, soos reddingswerkers en die span van CIA Rustenburg, bestaan die gesondheidsrisiko om  blootgestel te word aan chroniese aansteeklike siektes deur middel van direkte en indirekte kontak, insluitend hepatitis B en hepatitis C, MIV, derm patogene, tuberkulose en cholera.

CIA Rustenburg is OSHA (Occupational Safety and Health Act) gesertifiseerd deur middel van Amdecon CTS – wat internasionaal erken word. 

Vir meer besonderhede, kontak Aucamp of Hansen by 079-498 7606 of stuur ‘n e-pos aan info@ciacleanup.co.za of besoek www.ciacleanup.co.za.

Share this article with a friend...