Articles
Sport & School News
17 February 2017

Rustenburg – Die Platinum Weekly koerant het vandeesweek die voorreg gehad om met Naas Olivier, Newrak Impala Rugby klub besigheidsbe-stuurder, kennis te maak.

Díe man se bloed klop pure rugby en díe jaar hou hy onder sy duim. Hy het pas aangesluit by die span en het groot planne vir die jaar wat voorlê.

Die Rustenburg Newrak Impala Rugby klub manne is behoorlik iemand om mee rekening te hou! Hulle is nie verniet die beste klubspan in die land vir die laaste drie jaar nie! Net om die prentjie in oënskou te bring, die klub kompeteer met sowat 1000 spanne landwyd en eindig bó-aan die leër.

Naas díe inligting stel ek een vraag aan jou – is jy man... of is jy muis? Want as jy ‘n man is wat hou van ‘n rugbybal in jou hand, spanwerk om die teenstanders te uitoorlê en bereid is om hard te oefen, moet jy liefs so gou moontlik aansluit by die rugby klub.

Enige iemand wat by die klub wil aansluit, is meer as welkom om die welbekende hoofafrigter, Nico Le Roux, te kontak by 073-177 8299.

Die Newrak Impala Rugby klub het tans vyf spanne waar jy kan inskakel; hul eerste-, tweede- en derde spanne, en ook die o/19 en o/21 spanne. Hul oefentye is Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 18h00. Enige iemand in die dorp is welkom om saam te kom oefen.

Die Assupol reeks skop alreeds in Februarie af en die manne meet al klaar kragte vir díe rondomtalie. Volgende op die agenda ontmoet New-rak Impala Rugby klub vir die Dragons in Pretoria Noord – en so skop die jaar af.

Vee solank alles op Saterdag, 4 Maart 2017, uit in die dagboek – want díe dag is ons eerste tuiswedstryd teen Boksburg.

Die klub is sterk gemeenskapsgeoriënteer en enige iemand is welkom om aan te sluit en die spel te kom geniet.

Boonop is die klub se fasiliteite van die beste in die land. Hul perseel kan gehuur word vir 21ste verjaardae, konferensies en vele meer. Hulle beskik ook oor ‘n dranklisensie en spog met drie ruim kroeë. Tot selfs drie ge-leenthede kan terselfdertyd daar aangebied word! Met die finale Gold Cup verlede jaar het die klub gasheer gespeel vir sowat 4500 mense op een dag.

 “Alles wat ons hier doen is ten doel om terug te ploeg in ons spelers,” sê Olivier. “Ons lewer top rugby spelers op. Daarom vra ons die gemeenskap om sáám in ons bus te klim. Ons manne werk hard. Na ‘n lang dag op kantoor draf hulle uit op die veld vir oefening. Maar...” sê Olivier, “Ons manne het ‘n werk nodig. Sou daar enige besigheid of organisasie wees wat ons kan help om ‘n werksgeleentheid te bied vir van ons manne, moet ons praat. Ons moet met volharding terugploeg in ons spelers in.”

Share this article with a friend...