Articles
Crime & Accidents News
03 March 2017

Rustenburg – ‘n Bejaarde egpaar Mnr André Durant (61) en sy vrou Etrecia (59) het wakker geskrik na ‘n geluid op Sondagaand omstreeks middernag, 26 Februarie 2017.  Eers het hulle gedink dit was hul twee katjies wat geraas maak.

Hul woning is ‘n dubbelverdieping in die Savanna Falls sekuriteitskompleks, Waterval Oos, op die R24 ongeveer 4km uit die stad.

Durant het ondertoe gegaan om ondersoek in te stel en afgekom op boewe wat besig was om hul sekuriteitshek oop te breek.

Kort voor lank het die skurke deurgebreek. Hulle het mnr Durant oorrompel en aangerand. Mnr Durant wou sy vrou beskerm en het probeer om die skurke buite toe af te weer. Sekondes later is twee skote afgevuur. “Durant is in die wangbeen en maag geskiet,” aldus Kaptein Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder.

Sy vrou, nog in die bokant van hul tuiste, het die bure gebel wat haar toe aanmaan “Bly binne! Kruip weg, ons sal die polisie ontbied, maar bly binne!” Sy het haarself in die badkamer gaan toesluit. 
In sy toestand het Durant probeer om hulp te soek en het strompelend neergeval voor ‘n huis langsaan. Hy is hospitaal toe vervoer maar dood verklaar met aankoms.

Die moordenaars het weggekom met ‘n platskerm-tv.

Op Woensdag, 1 Maart 2017 is twee verdagtes vasge-trek en hulle sal binnekort voor die Rustenburgse landdroshof verskyn. Die polisie-ondersoek duur voort.

Ons getuig ons innige simpatie aan die Durant familie en vriende.

Share this article with a friend...