Articles
Social & Community News
03 March 2017

Rustenburg – Rustenburg Rusoord hou weer makietie! Saterdag, 4 Maart 2017, is dit weer tyd vir Rustenburg Rusoord se Oupa en Ouma Markdag op die  Rusoord se terrein, h/v Bosch- en Fatima Bhayatstraat (oorkant Orbit FET College) vanaf 9h00 tot laatmiddag. Die organiseerders nooi almal hartlik uit om te deel in die dag se fees.

Die Oupa en Ouma Mark is ‘n jaarlikse instelling wat baie goed deur die publiek ondersteun word. Dit word spesiaal met Rusoord inwoners ingedagte gereël – sodat almal  die mark kan bywoon.

“Ons nooi almal hartlik uit na ons markdag!” Hier is Louis Viviers (inwoner van Rusoord), Sanmarie Ferreira en Sylvia Jansen van Vuuren (ook ‘n inwoner).

Hierdie jaar het Rusoord spesiaal vir al die (klein) kinders voorsiening gemaak vir baie pret.

Sugarplum is ‘n organisasie wat hulself op die kleingoed se plesier toespits. ‘n Springkasteel, gesigverf,’n ballon kunstenaar, inkleur fasiliteite en allerlei speelgoed – selfs ‘n battery aangedrewe motortjie sal vir die jongklomp beskikbaar wees.

Rustenburg Rusoord het ook ‘n verskeidenheid uitstallers en heerlike kos en snoeperye te koop op die dag. Daar sal ‘n Wit Olifanttafel wees met oulike artikels wat spotgoedkoop is. Roomys, springmielies, spookasem en koeldrank, bazaar poeding, kerrie en rys, pannekoek, worsies en skyfies, en vele meer – om elke smaak te pas – sal aan die orde van die dag wees. Kom kuier saam in die teetuin en laat neem foto’s by die spesiale foto-hoekie!

Die dag word afgerond met heerlike musiek, trompoppies en koormusiek – en veilige parkering is beskikbaar.

Bring jou kinders, jou familie, jou werksmense... almal wat jy ken en kom geniet ‘n vrolike dag by Rusoord se Oupa en Ouma Mark!

Vir verdere navrae, of om self ‘n stalletjie te beman, kontak Sanmarie Ferreira by 014-592 9218 of stuur ‘n e-pos aan rusoord.exec.pa@telkomsa.net.

Share this article with a friend...