Articles
Crime & Accidents News
10 March 2017

Rustenburg – Die Rustenburgse Amateur Stoeiklub was oorval deur ‘n gewapende misdadiger op Donderdag, 2 Maart 2017, omstreeks 20h00 die aand. 

“Dit was ‘n baie traumatiese ervaring, veral vir die jong klomp,” vertel Mariana Coetzee, sekretaresse van die klub in ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant

Ná elke oefensessie kom sit al die kinders, oudergewoonte, saam in ‘n groep bymekaar om al die afkondigings te kom luister. “Daardie aand hoor ons almal toe ewe skielik ‘n klip-harde onaardse geluid en sekondes later loop ‘n man op ons af met ‘n geweer op ons gerig!” vertel Coetzee.
“Die misdadiger het selfone geëis en toe hy nie genoeg na sy smaak kon kry nie, rig hy toe die geweer op die kindertjies!”

Pieter Swart, een van die afrigters stel hom toe dadelik gerus, om die aandag van die kinders weg te lei, en kry toe nog selfone bymekaar. 

“My seun, ook ‘n afrigter, sê toe vir die man met hande in die lug omhoog, dat daar nie nog selfone op die perseel is nie – en toe rig die misdadiger die geweer op my seun... en trek die sneller,” aldus Coetzee. 

Die skoot het gemis. 

Die misdadiger draai toe om en loop weg. 

Daarna het ‘n oor en weer skietery, bui-te die perseel plaasgevind; drie karre is raakgeskiet maar geen beserings is opgedoen nie. 

Die saak is aangemeld by die polisie en die ondersoek duur voort. 

Share this article with a friend...