Articles
Sport & School News
17 March 2017

Chiefs vs Hurricanes

Die Chiefs stel nie hul supporters teleur nie en klop die Hurricanes tuis in Hamilton 26-18. Ondanks die nat en reënerige toestande, speel beide spanne puik ruggas ou grote. Die Chiefs speel volgende teen die Rebels in Melbourne met die Canes wat teen die Highlanders in Wellington gaan uit draf.

Brumbies vs Force

In ‘n tipiese eentonige Aussie derby in Canberra wen die Brumbies 25-17. Die Brumbies speel volgende teen die Waratahs in Sydney met die Force wat ‘n loslootjie het.

Blues vs Highlanders

In Auckland behaal die Highlanders hul eerste sege van die seisoen toe hulle die Blues in hulle agterplaas 16-12 klop. Die Blues se coach Tana Umaga was baie teleurgesteld met die Aucklanders se power ruggas. Die Highlanders speel in Wellington teen die Hurricanes volgende met die Blues wat teen die Crusaders in Christchurch gaan uitdraf.

Reds Vs Crusaders

Die Reds veroorsaak amper ‘n ligte aardbewing in Brisbane ou grote. Halftyd loop Aussie se kind 20-3 voor en baie Crusaders sit skielik met rooi gesiggies. Die Saders het toe ander planne in die tweede helfte en wen 22-20. Die Saders is tans glad nie op dreef nie. Die Reds speel volgende teen die Leeus in Jo’burg met die Saders wat teen die Blues in Christchurch gaan uitdraf.

Kings vs Stormers

Die Kings het vir twintig minute weerstand gebied teen die Stormers in Port Elizabeth. Die Stormers het ses drieë gedruk en wen 41-10. Die Stormers het volgende ‘n loslootjie met die Kings wat haaikos gaan wees in Durban.

Cheetahs vs Sunwolves

Die Cheetahs wen in Bloem teen die Japannese wolfies 38-31. Dit was die Blikore se swakste game vanjaar en hulle was baie gelukkig om die een te wen. Die Cheetahs reis Buenos Aires toe om teen die Jaguars uit te draf met die Wolves wat op Fort Loftus teen die gekweste Blou Bulle gaan uitdraf.

Haaie vs Waratahs

Haaie klop die Waratahs 37-14 welverdiend maar slaag egter nie daarin om ‘n bonuspunt te verdien nie. Slegte nuus vir die Haaie is dat Pat Lambie weer vir tot agt weke op die kantlyn gaan wees met ‘n rugbesering. Die jong talentvolle Curwin Bosch, maar net 19 jaar oud ou grote, het Lambie reeds in die  sesde  minuut na die afskop vervang en wat ‘n game het die jong mannetjie toe gehad. Hy teken 27 punte vir die Haaie aan wat ‘n puik drie insluit. Die Haaie speel volgende teen die Kings in Durban met die Tahs wat in Sydney teen die Brumbies gaan uitdraf.

Jaguars vs Leeus

In Buenos Aires verloor die Leeus teen die Jaguars 36-24 ou grote. Akker en Kie kies vir die tweede agtereenvolgende nie die sterkste beskikbare span nie en moet weer die prys betaal. Alhoewel die ref regtig die kluts kwyt was en skokkende beslissings gemaak het, kan die Jo’burgers nie dit as ‘n verskoning gebruik nie. Hierdie logpunte wat hier verbeur is, kan die Leeus weer later in die reeks duur te staan kom. Die Leeus speel volgende teen die Reds in Jo’burg met die Jaguars wat vir die Cheetahs wag in Buenos Aires om in ‘n katgeveg betrokke te raak.

Nag ou grote…

Share this article with a friend...