Articles
Sport & School News
17 May 2019

Blues vs Hurricanes
In Auckland bewys die Barrett-boeties dat hulle ‘n groot faktor vir die All Blacks later vanjaar in die Wêreld Beker Toernooi sal wees. Hulle het meesterlik vertoon en hulle aanvoeling vir die spel is net ongelooflik ou grote!


Die Canes wen dan hierdie rondte 22-12 en beklee ook dan die tweede plek op die NZ konferensie. Die Canes speel volgende gasheer vir die Jaguares in Wellington terwyl die Blues teen die Chiefs in Auckland sal uitdraf.


Rebels vs Reds
In ‘n klipharde Aussie-derby slaag die Rebelle daarin om die aanslae van die Reds af te weer en klop hulle 30-24 in Melbourne.


Die Rebels is nog steeds bo-aan die Aussie konferensie. Die Reds draf volgende teen die Waratahs in Brisbane uit en die Rebels speel volgende teen die Bulle in Melbourne.


Blou Bulle vs Crusaders
Op Fort Loftus word die Bulle verneder deur die Crusaders en verloor 45-13. Die kampioenspan lewer een van die beste vertonings op Loftus ooit... en dit wys maar net die gaping tussen SA Rugby en die ysters van die land van Silver Varings. Ligjare maat, ligjare! 


En om sout in hul wonde te smeer, moet die Pretorianers reis na doer onder en speel volgende teen die Rebelle in Melbourne. Dan in hulle agterkoppe ook nog die skok te verwerk dat hulle cappie, Handrè Pollard, vir ‘n skamele twintig miljoen rand per seisoen deur ‘n Franse klub betaal gaan word om na die Worldcup daar te gaan speel. En raai wie is dadelik weer teruggeroep, niemand anders as Morne nie? 


Die Saders reis Kaapstad toe om teen die Stormers se Suidooster windjie te staan. Volgens coach Scottie sien hulle erg uit na die paar afdae in die Kaap.


Highlanders vs Jaguares
Die Highlanders moes alles in die stryd werp in die laaste tien minute van hierdie skitterende game om uiteindelik 32-27 te wen. Tomas Cubelli, coach van die Argentyne, was ongelukkig omdat sy span verloor het, maar hy het hul steeds geprys vir die wyse waarop hulle bly veg het.


Die Jaguares sal hulle storie moet ken want hulle volgende game is teen die Hurricanes in Wellington. Die Highlanders reis SA toe om teen die Leeus in Johannesburg te kom kragte meet.


Chiefs vs Haaie
In Hamilton kon die Haaie nie die vorige week se yster-vertoning herhaal nie en verloor 29-23 teen die Chiefs. Hierdie is regtig ‘n game wat hulle kon wen maar die skuiwe deur R Senior van die bank af was fataal. As Curwin Bosch sy tasse pak, gaan dit nie die fisio se skuld wees nie...


Die Haaie is terug in SA en het volgende ‘n loslootjie. Die Chiefs speel teen die Blues in Auckland.


Lions vs Waratahs
Die Leeus moes al hulle varkies bymekaar hou en die kopdokter in Brakpan was op standby en klop die Waratahs 29-28 in ‘n riller ou grote.


Die Leeus se brul is effens gedemp met die hartseer nuus dat cappie Warren alweer beseer is. Hulle speel volgende teen die Highlanders in Johannesburg en dit gaan gewis nie ‘n maklike dag op kantoor wees nie.
Die Waratahs is terug in Aussieland en draf teen die Reds in Brisbane uit.


Brumbies vs Sunwolwes
Die Brumbies trap die Wolwe se tjank af en wen 33-0. Dit is die tweede nulletjie vir die Japanners en bepaal seker hulle aandag nou op die groot toernooi later vanjaar in Japan. Die Brumbies en die Wolwe verdien met hierdie sirkusvertoning ‘n welverdiende blaaskans in week 14.


Nag ou grote...

Share this article with a friend...