Articles
Headline News
17 May 2019

Rustenburg – Drie generasies van ‘n moeder se liefde...

Daar is ‘n hegte band tussen moeders en dogters. Met Moedersdag wat pas plaasgevind het op 12 Mei het Platinum Weekly met Ina de Beer, Tania Wolmarans en Dania Wolmarans, drie generasies van vroue gaan gesels oor hoe ‘n ma se liefde oorspoel na die volgende generasie… 

"Die beste geskenk wat ek al ooit van my ma ontvang het, was die Woord van God. Geloof het ‘n baie groot rol in ons huis gespeel en ek is van vroeg af geleer van liefde vir God en liefde vir my medemens. 


Ek het baie by my ma geleer – om sterk en verstandig te wees. 
My ma het ‘n hart van goud en soveel liefde om te gee. Sy was nog altyd vreeslik lief vir kinders. Sy het dié liefde in ‘n inkomste verander. Tot vandag toe is daar altyd ‘n string kinders in haar huis omdat sy deur die dag kinders oppas. 


Sy is altyd daar om liefde uit te deel en dit is vir my ‘n inspirasie. My kinders moet altyd weet hoe lief ek hulle het – net soos my ma vir my lief is.


Sy het soveel insig, sal altyd luister en raad gee. Daar is min dinge wat ‘n koffie saam met my ma nie kan beter maak nie. My ma is my anker en ek is innig dankbaar dat haar beker so oorloop van liefde."

Tania Wolmarans

"My ma is my steunpilaar, sy is liefdevol, passievol en ‘n baie sterk vrou. Sy het my van kindsbeen af geleer om op te staan vir dit waarin ek glo.

Sy is ‘n baie hardwerkende vrou en het my geleer om altyd trots te wees op my werk. Ons het al sakke sout saam opgeëet.

Ek kan elke dag op my knieë gaan en dankie sê vir my ma wat al soveel van my trane weggevee het, my opgehelp het en weer laat lag het. Sy het net ‘n manier om altyd die hartseer beter te maak. My ma is my veilige hawe.


Dania Wolmarans

“My ma het destyds in ‘n kinderhuis grootgeword. Dit was nie altyd maklik vir haar nie, maar toe sy ‘n familie van haar eie kry, was dit haar alles.

Daar was nooit ‘n tekort aan liefde in ons huis nie. My ma se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en sy het als wat sy gedoen het met trots aangepak. Sy was ‘n nederige vrou, baie streng maar het graag gelag!

Sy was dankbaar en het selde gekla. Sy was ‘n merkwaardige vrou en ek wou graag die waardes wat sy vir my geleer het oordra aan my eie kinders. Ek sien my ma se waardes in my dogter en dit laat my bewoë. 

Ina de Beer

 

Dania Wolmarans

 

Tania Wolmarans

 

Ina de Beer
THREE GENERATIONS… From left: Tania Wolmarans, Ina de Beer and Dania Wolmarans. 

 

Share this article with a friend...