Articles
Crime & Accidents News
24 March 2017

Rustenburg – ‘n Sestigjarige man, Obie Oberholzer, is oorval en grusaam aangerand op ‘n kleinhoewe buite Rustenburg by Rietvlei, in die vroeë oggendure omstreeks 02h00 op Saterdag, 18 Maart 2017.

Oberholzer het lê en slaap toe sy worshondjie hom wakker maak. “Toe hy wakker geword het, het hy iets ruik brand en gou agtergekom dat iemand sy houthuisie met petrol gespuit het, en probeer het om die aan die brand te steek,” vertel Sarel Oberholzer, broer van Obie Oberholzer, in ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant.

Toe die aanvallers nie regkry om die houthuis af te brand nie, het hulle die vensters begin uitgooi en die deur afgebreek. “Drie mans het op Obie afgestorm, maar hy het terugbaklei met alles wat hy gehad het. Elke greintjie in hom het saam-gespan om homself af te weer teen die aanvallers,” sê Sarel. “Hulle het ‘n panga na vore gebring en sowaar het Obie die panga kon afbaklei, wetende dat sy lewe in gedrang is.”

Die aanvallers het Oberholzer se voertuig sleutels geëis, en toe hy weier het hulle hom met die dood gedreig. Met Obie met die panga in sy hande, het hulle hom probeer uithaal met stene en hom bestook. “Steeds het my 60-jarige broer brullend staande gebly – en hulle het gevlug!... maar hy het baie ernstige beserings opgedoen,” het Sarel moedeloos vertel.

Obie Oberholzer het ernstige kopbeserings opgedoen, sy skedel is gekraak en het verskeie bene in albei sy hande gebreek.

Hy is vervoer na die Job Shimankana Tabane hospitaal, waar hy eers gesukkel het om mediese behandeling te kry. Op sosiale media is sy noodkreet om mediese hulp te verkry gehoor, en ‘n barmhartige Samaritaan het hom bygestaan.

“Na hy soos ‘n draak sy lewe moes beskerm is hy eers na 5 ure gehelp by die hospitaal – dit maak my siek!” aldus Sarel.

Share this article with a friend...