Articles
Sport & School News
24 March 2017
Crusaders vs Blues

Crusaders vs Blues

Die Saders wen teen die Blues 33-24 in Christchurch maar oortuig glad nie ou grote. Die Blues speel strate beter as verlede jaar en kan een van die dae weer saam met die groot honde blaf. Die Crusaders speel volgende teen die Force tuis met die Blues wat in Auckland teen die Bulle te staan kom.

Rebels vs Chiefs

Rebels vs Chiefs

Die Chiefs moes hard spook in Melbourne om die Rebelle te klop en wen 27-14. Die Chiefs het volgende week ‘n loslootjie met die Rebels wat in Melbourne teen die Waratahs gaan uitdraf.

Bulle vs Sunwolves

Bulle vs Sunwolves

Op Fort Loftus is die Bulle vir die eerste keer die seisoen aan die wenkant en klop die Japannese Wolwe 34-21. Selfs teen ‘n swak span soos die Wolwe kan jy maklik jou vingers brand. Die rooi kaart aan Renaldo Bothma in die 41ste minuut het dit bewys toe die Bulle met veertien spelers oor die weg moes kom. Handré Pollard is ook nog nie op dreef nie, maar die hoogtepunt van die game was die terugkeer van die Springboksenter Jan Sertfontein. Hy lyk skerp en druk ook twee puik drieë. Die Bulle gaan op toer en speel – volgende teen die Blues in Auckland. Die Wolwe speel in Singapoer teen die Stormers.

Hurricanes vs Highlanders

Hurricanes vs Highlanders

In Wellington speel die Canes puik ruggas in die tweede helfte en ransel die Highlaners gemaklik 41-15 af . Die Chiefs is ook nou die voorlopers op die NZ puntetabel. Die twee paar broers in die Canes geledere by name Savea’s en Barretts was ‘n handvol ou grote. Die Highlanders speel volgende teen die Brumbies in Canberra met die Canes wat ‘n loslootjie het.

Waratahs vs Brumbies

Waratahs vs Brumbies

In ‘n tipiese eentonige Aussie derby slaag die Brumbies daarin om die Tahs 28-12 die loef af te steek. Die Brumbies speel dan volgende teen die Highlanders in Canberra met die Waratahs wat in Melbourne teen die Rebels gaan uitdraf.

Leeus vs Reds

Leeus vs Reds

In Jo’burg lewer die Leeus ‘n puik vertoning teen die Reds en wen gemaklik 44-14. Vir die Leeu vleuel, Courtnall Skosan was die dag op kantoor uiters suksesvol. Die jongman druk nie minder as vier drieë nie ou grote. Die jong senter Ruan Janse van Rensburg het ook weer beïndruk met sy puik spel op aanval en verdediging. Die Leeus reis volgende PE toe om teen die Kings te gaan uitdraf met die Reds wat in Buenos Aires teen die Jaguars moet opdaag.

Haaie vs Kings

Haaie vs Kings

In die Haaitenk onderskat die Durbaniete hul gaste van die Baai af en is baie gelukkig om 19-17 te wen ou grote. Dit was ‘n uiters teleurstellende vertoning deur die Haaie voor hulle tuis-skare. Die Kings speel volgende teen die Leeus in PE met die Haaie wat Bloemfontein toe reis om teen die Cheetahs te gaan uitdraf.

Jaguars vs Cheetahs

Jaguars vs Cheetahs

Die katgeveg in Buenos Aires word deur die Jaguars gewen ou grote. Die Argentyne dis puik ruggas op en wen 41-14. Die Blikore hou maar nie daarvan om te toer nie, maar sal baie vinnig uit die doeke moet kom as hulle ooit die Super titel wil wen. Die Cheetahs speel volgende tuis teen die Haaie in Bloem en die Jaguars lê en lippe lek vir die Reds in Buenos Aires.

Nag ou grote…

Share this article with a friend...