Articles
Sport & School News
31 March 2017

Crusaders vs Force
In Christchurch behaal die Saders ‘n gemaklike oorwinning van 45-17 oor die Force. Die Kiwi’s is tans die voorlopers in die NZ konferensie met 21 punte en wen dan vyf uit vyf. Die Force bly maar een van die melkkoeie in die reeks ou grote. Die Saders speel volgende teen die Waratahs in Sydney met die Force wat teen die Blues in Auckland gaan uitdraf.

Rebels vs Waratahs
Net toe dit wou lyk of die Rebelle hul eerste oorwinning van die seisoen gaan behaal, druk die Waratahs die wendrie in die doodsnikke en wen 32-25. Die Waratahs se spel is ook net ‘n skadu van verlede jaar ou grote. Die Tahs speel volgende teen die Saders in Sydney met die Rebelle wat teen die Highlanders in Dunedin gaan uitdraf.

Blues vs Bulle
Die Bulle besluit toe in Auckland hulle draf uit en speel net een helfte en speel toe gelykop 7 elk . Na halftyd hardloop die Blues die Bulle van hulle pote af en wen 38-14. Die verdediging van die Bulle was pateties ou grote. Nollis en kie is duidelik nie opgewasse vir die tipe ruggas nie. Die Bulle se volgende game teen die Chiefs in Wellington, kan steeds in ‘n groter nagmerrie ontaard as daar nie drasties ‘n paar swepe gaan klap nie. Die Blues speel volgende teen die Force in Auckland.

Brumbies vs Highlanders
In Canberra klop die Highlanders die Brumbies 18-13. Dit was ‘n taai stryd met die Highlanders se verdediging wat nie geswig het onder die druk van die Brumbies nie. Die Brumbies is tans die voorloper in die Aussie konferensie en kon slegs twee games wen die seisoen ou grote. Die Highlanders speel volgende teen die Force in Dunedin met die Brumbies wat ‘n loslootjie het.

Sunwolves vs Stormers
Die Stormers slaag daarin om die Sunwolves 44-31 te klop in Singapoer. Die telling vlei die Stormers want die game was tot vyf minute voor die einde nog op die weegskaal ou grote. Die Stormers speel volgende in ‘n SA derby teen die Cheetahs op Nuweland met die Japanners wat ‘n loslootjie het.

Kings vs Leeus
Die Leeus se dag op kantoor was geslaagd en hulle verrig net die gewone dagtakies en wen verspotmaklik in Port Elizabeth met 42-19. Die Leeus is ook nou tans die voorlopers in die Afrika Konferensie 2, met 19 punte en die Haaie tweede met 17 punte. Die Leeus speel volgende teen die Haaie in Jo’burg en dit kan ‘n riller wees ou grote!

Cheetahs vs Haaie
In die Rosestad bederf die Haaie duisende Cheetah ondersteuners met die manne van Durban wat 38-30 wen. Die hoogtepunt van die game was die skitterende spel van die 19-jarige Curwin Bosch op losskakel vir die Haaie. Hierdie jongman is welverdiend aangewys as speler van die wedstryd en teken 18 punte aan. Sy taktiese spel was puik en is gewis Bok materiaal ou grote. Die Haaie speel volgende teen die Leeus in Jo’burg wat beloof om ‘n riller te wees. Die Cheetahs reis Kaapstad toe om teen die Stormers te gaan uitdraf.

Jaguars vs Reds
In Buenos Aires klop die Jaguars die Reds 22-8. Die dissipline van die Reds het hulle duur te staan gekom en is beloon met geel kaarte wat hulle die game gekos het. Die Jaguars speel strate beter as verlede jaar en wys hulle kan al amper saam met die groot honde blaf. Die Reds speel volgende teen die Hurricanes tuis in Brisbane. Die Jaguars ondervind ‘n welverdiende loslootjie volgende week.

Nag ou grote…

Share this article with a friend...