Articles
Crime & Accidents News
13 January 2017

Rustenburg/ Kroondal – Twan Relou (28), ‘n jong en opkomende plaaslike besigheidsman van Kroondal, Rustenburg, is Woensdagmiddag, 4 Januarie 2017 oorlede in ‘n skietvoorval.

Hy het gereageer op ‘n aanlynadvertensie van ‘n tweedehandse motor wat te koop aangebied is, en hy en sy vriend was onderweg na Alberton, Johannesburg om die voertuig te inspekteer.
Daar aangekom, na lang gewag, het die verkoper die twee laat weet dat hulle elders moet ontmoet.

Die tweede ontmoetingsplek was op ‘n ongemerkte pad vanaf die R550, waar die oortreders uit die bloute koeëls op hul afgevuur het.

Relou en sy vriend, Jan Hendrik Snyman, het probeer vlug, maar Relou is in sy bakkie noodlottig gewond. Snyman is in sy rug geskiet terwyl hy probeer weghardloop het, maar is volgens Kaptein Mzimkhulu Mthimkhulu, polisiewoordvoerder, nie ernstig beseer nie en sterk gou aan.

Daar is vermoedelik drie of vier verdagtes betrokke. Volgens Mthimkhulu is niemand al in hegtenis geneem nie en die polisie-ondersoek duur voort.

Volgens vriende en familielede van Relou, is díe nie die eerste keer wat hy op ‘n aanlynadvertensie reageer nie. “Hy is ‘n behoedsame man wat díe tipe transaksies versigtig aanpak.”

Twan Relou is op Woensdag, 11 Januarie 2017 om 10h00 vanuit die Evangelies-Lutherse Kerk in Kroondal begrawe.

Relou en sy verloofde Donett Havenga, ‘n jong prokureur van ‘n prominente prokureursfirma in Rustenburg, is enkele weke voor die tragiese voorval verloof, en sou 7 Oktober 2017 vanjaar in die huwelik tree.

Relou word oorleef deur sy verloofde, Donett Havenga, sy ouma Erika Ottermann, sy moeder Heidi Relou en suster Erika Odendaal.

Ons betuig ons innige meegevoel aan die vriende en familie van Twan in hierdie tyd.

Share this article with a friend...