Rugga Chunks
Highlanders vs Chiefs
Die eerste fluitjie blaas in die Forsyth Barr Stadium in Dunedin vir die game tussen die Highlanders en die Chiefs. Die opkoms was oorweldigend en vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd was die stadion volgepak deur 35,000 uitgehongerde, fanatiese rugga liefhebbers.
Die dag behoort aan die Highlanders wat ‘n dramatiese oorwinning behaal met ‘n eindtelling van 28-27.
Die game het gesukkel om aan die gang te kom deur die eentonige fluitjie van die ref. Die nuwe reël by die afbreekpunte het beide spanne duur te staan gekom. Die Highlanders moes tevrede wees met twee geel kaarte en het ook verbete gesukkel in die lynstane... Maar die dag het behoort aan die seun van Warren Gatland, afrigter van die Chiefs, wat moes toesien hoe Bryn Gatland in die doodsnikke ‘n skitterende skepdoel deur die mikke jaag vir ‘n oorwinning vir die Highlanders... En hoe ironies ou grote, Bryn is op die laaste nippertjie in die span ingesluit.
Vir die Chiefs het Damian McKenzie 'n goeie game gehad na 'n lang afwesigheid weens 'n ernstige been besering.
Die Chiefs speel volgende in Waikato teen die Blues op 20 Junie om 09:05.
Blues vs Hurricanes
Op ‘n volgepakte Edenpark is die 42,000 rugga ondersteuners nie teleurgestel nie ou grote. Puik rugby word opgedis met die Blues wat 30-20 aan die wenkant was. Alhoewel Dan Carter nie opgedraf het nie, is Beauden Barrett vir die eerste keer in ‘n blou jersey gesien.
Barrett was goed dopgehou deur sy eertydse spanmaats en het ook verrassend op heelagter die game begin. Hy het skaflik vertoon en het ‘n aandeel gehad in die drieë wat gedruk is.
Vir die Blues het die jong losskakel Otere Black net so puik vertoon. Rieko Ioane het gewys dat hy veelsydig is en het 'n groot game in die 13-jersey gespeel en kan moontlik nog in die toekoms vir die All Blacks in die posisie uitdraf.
Aan die Canes se kant was die vuurvreterhaker, Dane Coles, kookwater en het ook soos ‘n wafferse vleuel langs die kantlyn genael om in die hoek oor te duik vir ‘n puik drie.
In die proses het hy vir Barrett afgestamp om oor te gaan. Toe Coles opstaan was van sy spanmaats by om hom te omhels en het toe sommer baie sarkasties vir Barrett ook in die kring ingesluit. Barrett het toe maar met 'n baie verleë glimlaggie weggestap.
Op 21 Junie draf die Canes teen die Crusaders in die SKY Stadion uit wat beloof om ‘n riller te wees.
Nag ou grote...
© 2017 - All Rights with Platinum Weekly