Articles
Social & Community News
07 September 2021

Rustenburg – G-Om het op 1 September 2001 onder ‘n boom begin as ‘n kleuterskool vir minderbevoorregte, voorskoolse kinders van verskeie areas regoor Rustenburg. Hulle doel is om kinders effektief te stimuleer sodat hulle skoolgereed is – selfs al kan hul ouers dit nie bekostig nie.
“Ek en my man het besluit om die kleuterskool te open na ‘n vyfjarige dogtertjie by ons kom bly het en nie die basiese vaardighede gehad het nie. Sy was net een van vele wie voorskoolse onderrig baie nodig gehad het, maar die ouers het net nie die finansies gehad nie en hul omstandighede by die huis het dit nie toegelaat nie,” het G-Om stigter Linda Grobler gesê. Nou, 20 jaar later, is hulle in ‘n gebou en hulle kinders floreer op skool. Hul spog ook met oud leerders wat gereeld toekennings ontvang, dien op leerlingrade en het selfs ‘n oud leerder wat universiteit toe is. Al hul onderwysers is vrywilligers.
Die skool is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en maak staat op vrywilligers en skenkings. Hulle het verskeie projekte waar hulle ‘n verskil in die gemeenskap maak onder andere voorsien hulle ongeveer 50 kinders elke skooldag met ‘n bord voedsame kos en kerskospakkies word in Desember uitgegee as die skole sluit. “God het die afgelope 20 jaar presies dít wat ons benodig, vir ons gestuur. Ons is so dankbaar en geseën,” aldus Linda. Hulle het tans vrywilligers nodig wat kan help om kos te maak en kort borge vir die kinders se skoolbus geld. 
Vir meer inligting oor hul projekte, besoek http://www.weecareproject.co.za/. Indien jy wil betrokke raak kan jy Linda via WhatsApp kontak op 083 292 5654 of Marieta Herbst op 063 705 0304. 

#FosteringASenseOfCommunity

Die fantastiese G-Om span.

Share this article with a friend...