Articles
Social & Community News
02 September 2021

In Townsville, Australië, word ‘n riller deur nagenoeg 30,000 toeskouers aanskou ou groene. Die ref van die dag, Luke Pearce, het senuwees van staal getoon en nie die hasepad gekies nie.

Die mannetjie het uitgehaal en gewys en het die toets baie goed beheer. Hierdie toets was brutaal en genadeloos. Verwoede duikslae is tot in die pawiljoene gehoor, bloed het gevloei en daar was duidelik nie plek vir sissies nie! 


Die honderdste toets tussen hierdie twee swaargewigte is uiteindelik deur die All Blacks gewen. Die Nieu-Seelanders is ook dan die 2021 kampioene en verower die Freedom Cup. Die telling van 19-17 in die Kiwi’s se guns vertel die verhaal. Jordie Barrett het in die 77ste minuut komkommerkoel ‘n moeilike strafdoel oorgeklits met ‘n persoonlike bydrae van veertien punte. Die All Blacks se enigste drie van die toets is na net twee minute na die afskop deur die spoedvraat Will Jordan gedruk. Dit was ook Jordan se eerste keer om teen die Bokke uit te draf. 


Die Bokke het ook net een drie gedruk na ‘n allemintige blaps van die linkervleuel George Bridge wat vir Sbu Nkosi die geleentheid gegee het om oor te duik. Handrè Pollard was vir die ander twaalf punte verantwoordelik met vier strafdoele. 


Die Bokke het vriend en vyand verras en het vir ‘n verandering weer opgedaag vir ‘n toets ou grote. Baie beter gespeel as die vorige Saterdag se skokkende neerlaag teen die Aussies... Onsienlike, aaklige en amateuragtige skopwerk deur die Bokke se skakelpaar en lakse verdediging was hulle ondergang. 


Die Bokke sal nie weer maklik so ‘n kans kry om die Kiwi’s te troef nie. Die Kiwi’s het ‘n duidelike afdag gehad. Ja, die Bokke het hulle onder groot druk geplaas en dalk die onkantlyn fyn gesny en in die gesigte van die All Blacks geboer. Die Nieu-Seelanders hou daarvan om bal in hand te hou maar was op die dag nie op hulle beste nie. 


Die Bokke het baie goed geskrum en in hierdie afdeling beter as die Kiwi’s. Selfs ‘n paar balle in die lynstane gegaps, baie omgekeerde besit verkry danksy Kwagga en Siya Kolisi. Van Siya gepraat... Die Bok cappie het sy beste game in twee jaar gehad en het van voor af gelei.


Die sondaars in die Bokspan was die agterspelers ou grote. Dit is tyd dat daar gekyk word na die 2023 Wêreld Beker toernooi en nuwe jong talent losgelaat moet word. Die amptelike verklaring deur skopkoning Faf en kie is dat hulle nie sal ophou skop nie en by hulle spelpatroon sal bly, of liewer eerder hulle skoppatroon.


Die All Blacks coach Ian Foster het aangekondig dat Richie Mo’ungaop losskakel gaan diens doen... Maar een ding is verseker, Forster en kie sal nie weer sonder ‘n erkende agsteman opdaag nie.
Die Bokke se coaches het net drie veranderinge aangebring. Met die besering van Frans Malherbe skuif Trevor Nyakane van losskop oor na vasskop met Ox Nché dan op losskop. Jasper Wiese keer terug na die bank in die plek van die beseerde Marco van Staden. 


Die ref vir hierdie toets is Matthew Carley van Engeland. Die toets skop Saterdag om 12:05 af in die Gold Coast, Australië.

Australië vs Argentinië
Die Wallabies het voortgebou op hul puik vertoning van die vorige week teen die Bokke, en klop die Pumas gemaklik 27-8. Michael Hooper en sy troepe speel met baie selfvertroue en die Pumas kan in die volgende kragmeting dalk ‘n groter pak slae op die lyf loop as hulle nie met ‘n ander game plan opdaag nie.


Die Aussies het met hierdie oorwinning dan nou in die tweede plek op die punte tabel geskuif. Die Aussies en die Pumas draf Saterdag om 09:05 uit ook in die Goue Kus.

Punte tabel:

Nag ou groene...

#FosteringASenseOfCommunity

Share this article with a friend...