Articles
Sport & School News
15 November 2021

Ierland vs Japan
Die Iere het goed wraakgeneem vir die skokkende neerlaag teen die Japanners in die wêreldbeker toernooi twee jaar gelede. Hulle klop die Japanners oortuigend met 60-5 en druk nege drieë.
Vir die Ierse losskakel en cappie Jonathan Sexton, was die oorwinning ekstra spesiaal want hy draf in sy honderdste game uit in die Ierse trui. Die begaafde speler druk ook ‘n drie en behaal nege punte met sy skopstewel vir sy bydrae van veertien punte.
Die Iere se volgende game is teen die All Blacks en wat ‘n riller gaan dit nie wees nie ou grote! 
Italië vs Nieu-Seeland
Met ‘n oorwinning van 47-9 sal enige coach tevrede wees ou grote, maar dit was seker een van die Kiwi’s se swakste vertonings vanjaar. Na 28 minute verswak die Italianers se verdediging en die All Black skrummies duik oor vir die eerste punte in die toets. Die Azzurris het soos Trojane verdedig en was gedurig in die Kiwi’s se gesigte. 
Dan was die balhantering van die Kiwi’s nie soos ‘n mens gewoond is nie. Hulle sal baie meer gefokus moet wees vir hulle toets teen Ierland die komende Saterdag. Die span wat teen die Iere uitdraf sal skrummie Aaron Smith en ander gereelde spelers insluit. 
Die All Blacks het twee rugby wêreld rekords by hulle prestasies bygevoeg. Hulle staan nou op 96 drieë in een kalenderjaar en verbeter Argentinië se rekord 92 opgestel in 2003. Dan verbeter hulle ook die Springbokke se 658 in 2007 na 675 in een kalenderjaar. Die rekord gaan nog groei want die Silwer Varings moet nog in twee toetse vanjaar speel...
Skotland vs Australië
Op Murrayfield was daar duisende Skotte wat die allermooiste volkslied uit volle bors gesing het ou grote, die Flower of Scotland – hoendervleis mooi! 
En hulle geliefde span het hulle nie in die steek gelaat nie. Skotse bravade aan die orde van die dag en hulle klop die Aussies 15-13. Halftyd was die telling 7-3 in die guns van die Skotte. Die skrums, met Pierre Schoeman een van die ‘vories’ het die berugte Wallabies se voorry laat knor. Oli Kebble het ook sterk geskrum. Duhan van der Merwe het ook die Aussies geteister met sy kraglopies. Die spel van Quade Cooper is verseker gemis in die 
Aussie-span. 
Die Skotte se volgende toets is teen die Springbokke met die Aussies wat teen Engeland gaan uitdraf. 
Wallis vs Suid-Afrika
In Cardiff moes die Bokke vir tagtig minute in gietende reën spook en spartel om tog uiteindelik met 23-18 as oorwinnaars weg te stap. Die Bokke het eers in die 73ste minuut die knoop deurgehaak toe Bok haker Malcolm Marx oorgebars het vir sy drie. Maar die man van die dag was François Steyn wat Damian Willemse na sowat 17 minute vervang het. Steyn het ‘n skitterende game gehad en slaag ook met ‘n reuse strafskop van 54 meter. Cobus Reinach het ook ‘n ander dimensie na die spel gebring toe hy in die tweede helfte vir Herschel Jantjies vervang op skrumskakel. Voorlangs het Kwagga Smith en Eben Etzebeth die pap dik aangemaak. 
Na slegs een skrum in die eerste helfte het die Bok voorry die Rooi Drake pap geskrum – ook in die tweede helfte ou grote. Dit is goeie nuus vir bok se kind want die Skotte wag vir hulle op Murrayfield. 

Share this article with a friend...