Articles
Sport & School News
08 April 2022

Rustenburg/ Kroondal – Die Kinder Karnaval op 2 April, aangebied by Humble Hearts op die ou Pretoria pad (R104), was ‘n reuse sukses. 


Die boeresport aktiwiteite was beslis die hoogtepunt van die dag en het oud en jonk behoorlik laat sweet! Daar was toutrek, aartappelresies, sakresies, kruiwastoot asook eier-in-lepelresies.

Die kleingoed het ook al te lekker deelgeneem aan inkleurkompetisies en het baljaar in die swembad – en die weer was perfék! Toe die son op sy warmste was het die kleingoed vergader by die poppekas. 


Twee van Rietfontein Valley Horse Trails se perde het ook avontuur voorsien met begeleide uitstappies. (Kontak hulle gerus op 063 409 9412 of 076 413 4078.)  


Daar was verskeie stalletjies; Beauty for Ashes juwele stalletjie, ‘n biltong hoekie, Shelly’s Bibs met babakleertjies en allerlei baba items, aartappel op ‘n stokkie en ander eetgoed... en natuurlik Coffee-On-The-Move met hulle bobaas boeretroos en groot koffie-verskeidenheid. Die Rustenburg dierebeskermingsvereniging (DBV/SPCA) het ook ‘n stalletjie gehad vir bewusmaking. 


Aldus organiseerder van die dag, Rina du Plessis, “Dit was ‘n groot voorreg om die geleentheid te hou ter fondsinsameling van Rietfontein Grootfontein Kromrivier Buffelsfontein (RGKB) landelike beheersvereniging. Baie dankie vir die gemeenskap se ondersteuning.” 


Op hul beurt sal die vereniging die fondse vir veiligheid, pad-opknapping en dies meer aanwend in die area. RGKB se leuse, vorentoe met integriteit, voeg beslis daad by woord. Hul aktiwiteite, soos uiteengelê in hul algemene jaarvergadering sowat drie weke gelede, het gewys wat hulle die vorige finansiële jaar uitgerig het, en hulle het ook hul planne vir die komende jaar voorgelê. 


Aan die einde van die Kinder Karnaval is ‘n WhatsApp veilig ook van stapel gestuur vir ‘n smullekker biltong ruiker. Teen ‘n minimum R50 bodverhoging is die biltong-lot geveil vir R1,000! 

#FosteringASenseOfCommunity

Van links: Keryn, Auralea (mimiekkunstenaar vir die dag) and Isabella Langford. 
Die manne van ER24 was aan diens; paramedikuste Kagiso Mphela en Mohamed Bulbulia. 
Jeanri Pretorius stoot haar “kruiwa” – ene Abigail Marx. Die kruiwastoot was vet pret! 
Gerhard du Plessis maak skoonskip in die aartappelresies! 
Barry Grobler en Charlotte Marx by die Beauty for Ashes juwele stalletjie. 
Pure perde pret vir Danmarié Meyer!

 

Chloe Nienaber in haar gemak op een van Rietfontein Valley Horse Trails se perde. 
Rustenburg DBV spanlede van links: Suenell van der Walt (links) en Lorrain van der Merwe. 
Toutrek is nie vir sissies nie! 
Die kleinspan het die poppekas terdeë geniet! 
Matthys Pretorius (voor) het die rondte van die sakresies gewen! 

Share this article with a friend...