Articles
Social & Community News
20 January 2017

Thabazimbi – Hierdie jonge dame, 8-jarige Taryn Stander van Laerskool Thabazimbi, het die harte van die bosveld verower met haar projek wat sy laat in 2016 geloods het.  

Die pragtige kleinding het koeldrank- en water bottels se proppies ingesamel... ‘n ámper onbegonne reuse taak wat die klein yster aangepak het! Wanneer jy 300kg proppies skenk vir ‘Bottle caps for Africa’, skenk hulle ‘n rolstoel in ruil. 

Proppies by dosyne
Taryn Stander staan trots langsaan Tannie Hantie Steenekamp (94) van die Tambotie Versorgingsentrum in Thabazimbi, na die rolstoel oorhandiging.

Taryn het uitgereik en ‘n beroep op al die skole, eetplekke, besighede en individue in Thabazimbi en omgewing gedoen. Sy is nie ongeantwoord gelaat nie. 

Gedurende die vakansie, op 13 Desember 2016, het Taryn saam haar gesin gaan kamp te Pilanesberg. Glo het die weersomstandighede die kleingoed nie die kans gegun om te baljaar in die swembaddens nie, en só het Taryn toe besluit om van karavaan tot karavaan te loop soek en aanklop vir doppies. 

“Niks kan Taryn keer as sy eers ‘n barmhartige dee beet het nie!” is hoe sy beskryf word. Ons hou haar met groot belangstelling dop. “Dis mos maklik,” sê Taryn. “Dit kos nie geld nie. Haal net die proppie af en gooi dit in ‘n sak.” 

Die gesin wat reg langs Taryn-hulle kampeer het, was so beïndruk deur die deursettingsvermoë en welwillendheid van Taryn, dat hulle belowe het om vir haar ‘n rolstoel te skenk. Die gesin wil graag anoniem bly in hul skenking. Nét die volgende dag het Taryn en haar moeder, Suzan Stander, die rolstoel gaan optel in Rustenburg. 

Proppies by dosyne
Maandag, 19 Desember was ‘n groot dag vir Johnré Oosthuizen in Thabazimbi, toe Taryn vir hom sy rolstoel oorhandig het. 

Maandag, 19 Desember was ‘n groot dag vir Johnré Oosthuizen in Thabazimbi. Hy is 9 jaar oud en gaan skool by die Spitskop Special Needs School. Johnré lei sy lewe met Spina Bifida, ‘n rare geboortedefek waar die ruggraat en membrane rondom die rugmurg onvolledig inmekaar sluit. 

Só het die proppies begin instroom nadat Taryn se kreet sosiale media aan die brand gehad het. Sy het selfs ‘n tweede rolstoel skenker van Rustenburg gekry. 

Proppies by dosyne
Taryn en haar gesin bedank graag almal in die kontrei, en die wat van ver af ook hul hulp verleen. 

Die tweede rolstoel is aan Tannie Hantie Steenekamp (94) van die Tambotie Versorgingsentrum in Thabazimbi geskenk vroeg vanjaar, op 3 Januarie 2017. 
Maar die projek stop nie hier nie!

Taryn samel steeds proppies in en het JOU hulp nodig. Indien enige iemand proppies vir Taryn wil gee, kan haar ma Suzan Stander gekontak word by 082-463 4907 of proppies kan ingehandig word by Juffrou Elna Massyn by Laerskool Thabazimbi. 

Share this article with a friend...