Articles
Headline News
11 August 2017

Rustenburg – Goeie goed is skaars, dit is hoekom die Hoërskool Rustenburg slegs elke twee jaar ‘n produksie op die planke bring.

As die Gordyn Val was Rita Liversage, regisseur, se vierde produksie en het plaasgevind vanaf Maandag 31 Julie tot Woensdag 2 Augustus. Rita en haar span, John Robbertse, Melissa Louw en Anuschka Jacobs, oefen al meer as ‘n jaar lank aan die 25 asemberowende liedjies waaruit die revue bestaan.

Cara Grobbelaar in Phantom of the Opera.
Cara Grobbelaar in Phantom of the Opera.

Die revue vertel die storie van twee sussies, Monique (Cara Grobbelaar) en Emma (Bernice van der Westhuizen). Monique is ‘n regte diva en die ster van Mr Bernard (Hamman Prinsloo) se produksie.

Sy misbruik vir Emma, totdat Alex (Bertus Buitendach) op haar verlief raak en haar help om haar selfvertroue weer terug te kry. Toe Monique beseer is kry Emma die geleentheid om die ster van die show te wees. Monique leer om meer beskeie te wees en ander ook ‘n plekkie in die son te gun, terwyl Emma leer dat sy ook ‘n ster is wat helder kan skitter.

Die revuegroep in Born This Way.
Die revuegroep in Born This Way.

Cara speel die rol van Monique met soveel oortuiging, dat dit moeilik is om nie simpatie met die arme Emma te hê omdat sy so ‘n ou misbruike muurblom is nie. Wanneer Bernice egter lostrek en begin sing, snak die hele gehoor na hulle asem. Bernice is beslis ‘n Rustietalent wat in die toekoms fyn dopgehou kan word. Haar duet saam met Cara, Rise Up, is beslis die hoogtepunt van die revue.

Paul Minnaar en Arno Strydom, graad 11 leerlinge wat die produksie kom kyk het.
Paul Minnaar en Arno Strydom, graad 11 leerlinge wat die produksie kom kyk het.

Sven Meyer, ‘n solis, en Bertus Buitendach, bied ook iets besonders om na te luister en vir jong dames om na te kyk. Johanica Diedericks, Monique Wangra en Jeanette Tlou bied komiese verligting. Jeanette sing ook ‘n liedjie uit Dreamgirls wat ‘n talent vêr bo haar jare ten toon stel.

Wat die meeste uitstaan van die produksie is egter nie die pragtige jong stemme, die uitstekende choreografie of puik liedjie-keuses nie, maar die asemberowende kostuums. Elke keer as die kinders op die verhoog verskyn is daar iets nuut, mooier en beter as die vorige keer. Dit help natuurlik ook dat so baie van die soliste pragtige Peter Bondesio skeppings aangehad het.

Verstaan Mekaar gesing deur Sven Meyer en Karla Roux.
Verstaan Mekaar gesing deur Sven Meyer en Karla Roux.

Om drie ure lank na die produksie te sit en kyk, was beslis die moeite werd! Dit was ‘n gepaste viering van die skool se 95ste bestaansjaar en die borge, Suzuki Rustenburg (hoofborg), Sound Motion, Crosslight Construction, Von Wielligh Property Management, Sign Topia, Metasec Security Solutions, Bad Influence Auto, Chem Dry Rustenburg, Calavi, Lynstaan, Tiep ‘n Drom, Crazy Skips, Tuscany Pharmacy, Bennie en Rita Liversage, Retief en Leila von Wielligh, Bertie Grobbelaar en Theo Stoltz, kan trots wees.

Die groep in All Night.
Die groep in All Night.

Hierdie is nog slegs die begin van ‘n groter en sterker storie in Hoërskool Rustenburg se volgende 95 jaar van uitnemendheid.

Share this article with a friend...