Articles
Sport & School News
11 August 2017

Rustenburg – Die o/16A-netbalspan van die Hoërskool Rustenburg (RHS) het vanaf 4-6 Augustus aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te EG Jansen in Boksburg deelgeneem.

Hierdie spannetjie droom al sedert hul o/14 jaar daarvan om die SA kampioene te wees, en het nou uiteindelik hulle ideaal bereik. Hulle het eerste geëindig en is nou die kampioen van kampioene!

Me. Elsa Morris, afrigter van hierdie span, het met voorbereiding reeds geglo die meisies het wat nodig is om die beste o/16-span in die land te wees. Haar absolute toewyding teenoor die span en ook teenoor die ontwikkeling van volle potensiaal het beslis ‘n reuse rol in hulle oorwinning gespeel!

In hulle poel wen die meisies Waterkloof 16-11, Bergvlam 39-6, Nico Malan 23-14, Duimeveld 27-4 en Piersburg 31-8. In die kwart-finaal wen hulle Nelspruit 22-18 en in die semi-finaal teen Paarl Gim, wen hulle 17-13. Laastens speel hulle in die finaal teen Bloemhof van Stellenbosch en wen 22-11.

Voor van links: Kayla van Tonder, Monique van der Heever, Michelle Geduld, en Carney Fourie. Agter van links: Sharmari Naude (spanbestuurder) Su-mari Rocher, Anri Liebenberg, Nicole Theart, Chelize Swart en me Elsa Morris
Voor van links: Kayla van Tonder, Monique van der Heever, Michelle Geduld, en Carney Fourie. Agter van links: Sharmari Naude (spanbestuurder) Su-mari Rocher, Anri Liebenberg, Nicole Theart, Chelize Swart en me Elsa Morris

“Hierdie spesiale groep meisies droom al sedert hul o/14 jaar van hierdie oorwinning, en het nooit moed opgegee nie. Selfs toe dit lyk of klein jakkalsies, soos die hoofdoel se voet wat deur ‘n by gesteek is en infeksie opgedoen het, of toe die AV so siek raak dat sy nie in die finaal kon speel nie, hulle kanse op wen gesteel het, het die dames aanhou glo en veg. Hulle verdien uit en uit hulle oorwinning,” sê Morris. 

Share this article with a friend...