Articles
Social & Community News
27 January 2017

Rustenburg – Daar is die afgelope drie jaar verskeie gevalle van Hondsdolheid gediagnoseer in die areas omliggend Rustenburg. ‘n Positiewe geval van hondsdolheid is op 11 Januarie 2017 gediagnoseer in ‘n hond by Olifantsnek.

Simptome: Hondsdolheid affekteer die senuweestelsel en is fataal vir geaffekteerde diere en mense wat reeds simptome wys. Die siekte veroorsaak gewoonlik abnormale gedrag bv. Wilde diere kan oormatig mak voorkom of soms vreemd optree soos bv. ‘n huis binnegaan of ‘n voertuig bestorm. Honde en veral katte is geneig om baie aggressief op te tree.

Oormatige speekselvloei kom dikwels voor. Die simptome by beeste gesien kan insluit verlamming, speekselvloei, oormatige parsing (asof probeer mis), oormatige gebulk, vrees vir water en aggressie.

Hoe word Hondsdolheid oorgedra? Hondsdolheid word deur speeksel oorgedra deur bytwonde. Dit kan ook oorgedra word indien daar kontak is met speeksel terwyl die persoon wonde/ skaafmerke  op die vel het. Die speekselvloei in beeste kan verwar word met ‘n vreemde voorwerp in die bek — moet dus onder geen omstandighede in so 'n geval die bek ondersoek nie. Vermy waar moontlik enige kontak met verdagte gevalle. Probeer ander diere en mense weghou van verdagte gevalle en kontak so gou moontlik ‘n veearts of staatsveearts.

Entstof beskikbaar teen R50! Daar is entstof beskikbaar vir diere teen hierdie gevreesde siekte. In ons area moet honde en katte aanvanklik 2 inentings kry en daarna elke 3 jaar. Al die veeartse in die Rustenburg en Buffelspoort area het besluit om saam te span en hierdie siekte te probeer hokslaan. Tot en met einde Februarie sal die veeartse hieronder genoem entings doen in honde en katte, teen R 50 per enting. Dit sal bewys van enting insluit maar nie ‘n kliniese ondersoek nie. U kan die volgende veeartse kontak vir meer inligting en om ‘n afspraak te maak.

Veearts Kontak Nommer
Aran Veterinary Clinic: 014-592 6007
Dr Allan Hislop: 083-691 7275
Bergbos Diere Kliniek: 014-533 1959
Kloofsig Diere Kliniek: 014-533 2404
Pet Passion Animal Care: 081-595 4231 (Buffelspoort)
Zinniaville Veterinary Clinic 014-538 2114
Dr Marelie Olivier: 014-544 0889 (Staats Veearts: Swartruggens)
Dr Johan van der Merwe: 014-592 9281 (Staats Veearts: Rustenburg)

Informasie verskaf deur Dr. Newton Sparks, Rustenburg

Share this article with a friend...