Articles
Sport & School News
15 September 2017

Rustenburg – My maggies maar was dit lekker om weer die groen gras, die lawaai van die skare en die Impala manne op die veld te ondersteun!

Op Saterdag 9 September het die Gold Cup liga afgeskop met die Newrak Impala Eerste rugbyspan wat kragte gemeet het teen die Bloemfontein Polisie span op Impala se velde. Vir die eerste helfte was die Impala manne maar op verdediging en het bykans al hul punte in die tweede helfte aangeteken. Dit was ‘n moeilike stryd maar Impala se Eerstes het welverdiend met ‘n telling van 28-10 van die veld gestap.

Die skare van sowat 1000 mense het gesorg vir groot pret. Impala se span het puik presteer onder die leierskap van hul flank Justin Wheeler, hul kaptein. Berto van Wyk, binnesenter, is aangewys as man of the match.

Volgende op die rooster reis ons Eerstes na Secunda om die stryd teen Sasol-Hydra aan te sê op Saterdag 16 September. 

“Ons manne sal witwarm en wakker moet loop om die spel te wen,” aldus Naas Olivier, Newrak Impala Rugby klub besigheidsbestuurder in ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant. “Ons nooi die mense van Rustenburg graag uit om ons wedstryde te kom bywoon. Ons het weer oor twee weke ‘n tuiswedstryd teen Welkom en ons wil graag hê dat ons mense ons moet kom ondersteun.”

Berto van Wyk, Impala se binnesenter, staan nie ‘n millimeter terug vir sy opponente nie!
Met die twee pakke wat goed opgeweeg het teen mekaar, is Nico Kruger, Impala se skrumskakel, gereed om die bal in te gooi in die vaste skrum.

 

Share this article with a friend...