Articles
Social & Community News
12 October 2017

Rustenburg – Mihla Engelbrecht is ‘n baie spesiale klein mensie wat op 22 Julie met ‘n baie seldsame soort breinkanker gediagnoseer is. Sy is tans 3 jaar oud, maar word op 14 November vanjaar 4.

Sy is sonnig en vol energie. Sy is ‘n regte babbelbekkie en baie lief vir haar maatjies en mense, en sy is haar mamma en pappa, Shani en Rudo Engelbrecht, se enigste kind.

Mihla is gediagnoseer met Serebrale Neuroblastoom (Cerebral Neuroblastoma). Sy het nog nooit enige simptome gehad nie, al haar mylpale behaal en was gesond. Sy het net een dag gekla dat haar koppie seer is en opgegooi. Haar ouers het haar na hulle huisdokter toe geneem, wat haar vir veiligheid opgeneem het in die hospitaal op 3 Julie.

Hulle het dieselfde aand ‘n CT scan gedoen en ‘n groot massa op haar brein gekry, sy moes die volgende dag, op 4 Julie, op haar mamma se verjaarsdag breinchirurgie ondergaan. Sy het weer 13 Julie chirurgie ondergaan om haar wond op haar koppie toe te maak.

“Ons het op 22 Julie uitgevind dat haar gewas kwaadaardig is. ‘n Serebrale Neuroblastoom, ‘n ongelooflike skaars breingewas is bevestig. So skaars dat net 1 uit ‘n miljoen kinders dit sal kry en dat die pediatriese onkoloë eerlik sê hul het dit nog nooit gesien nie. Sy is daarmee gebore. Dit is vir ons ‘n baie groot skok,” sê mamma Shani.

“Die woord kanker het vir ons gesin van drie ‘n nuwe wêreld laat oopgaan. Mihla kry nou chemo-terapie omdat sy te klein is vir radiasie. Die primêre behandeling is eintlik volbrein en vol spinale radiasie, maar omdat dit soveel newe-effekte het, doen ons nou eers voorkomende chemo. Haar chemo protokol is rof, en sal tot ongeveer einde 2018 duur. In die tussentyd val dit haar immuunstelseltjie aan en mag sy nie skool toe of na partytjies toe gaan nie. Sy is by Unitas hospitaal onder ‘n puik span pediatriese onkoloë. Ons wil haar vir die radiasie na die chemo Amerika toe neem omdat hulle beter tegnologie in terme van radiasie het, wat minder skade aan Mihla se brein sal doen,” voeg Shani by.

Mihla woon tans in Rustenburg. Die Rustenburg gemeenskap is vol medelye vir die Engelbrecht gesin. “Die ondersteuning wat ons ontvang is ongelooflik. Van haar fantastiese skool Platinum Sterre wat ‘n partytjie spesiaal vir haar gehou het tot Pienkvoet Pret wat finansieel bydra tot haar behandeling. Haar klasmaatjies se families vir ongelooflike liefde en steun. Vriende en familie en die hele gemeenskap wat ons nederig op ons knieë laat dankie sê vir al die gebede en liefde. Haar ekstra klassies soos Audiblox wat die terapeute gratis na ons huis toe stuur. Ek sou nooit kon dink dat mense so uit hul pad sal gaan om jou pad gelyk te maak nie,” sê Shani.

Hierdie dapper dogtertjie het sedert haar diagnose op 22 Julie al ‘n hele paar rondtes chemo ontvang. Die chemo maak haar siek en moeg en haar haartjies het alles uitgeval, wat ‘n groot seer is vir ‘n dogtertjie-hart. Gelukkig het haar Mamma en Pappa ook hulle hare geskeer en lyk die drietjies ewe dapper.

Daar is vir Mihla ‘n Nedbank 4 Me rekening oopgemaak, met die doel om nou al te begin spaar/ fondse bymekaar te kry vir haar radiasie en terapie. Dit is ongelooflik duur in dollars, maar die gesin weet dit is iets wat hulle MOET doen.

Indien u finansieel kan bydra, kan geld in die volgende rekening gedeponeer word:

  • Mihla Engelbrecht
  • 1151747831
  • 10841000
  • Nedbank4Me Current Account

Die gemeenskap loods ook nou verskeie fondsinsamelingsprojekte om vir klein Mihla te help gesond maak. Vir meer navrae epos shanipelser@gmail.com en volg haar facebookblad vir nuus oor die behandeling en hoe dit met haar gaan en gebedsversoeke https://www.facebook.com/mihlamensie/.

Die Engelbrecht-gesin bedank die gemeenskap vir die kompetisie by die mall en die gholfdag ter fondsinsameling vir klein Mihla; “Ons is uiters dankbaar vir almal se omgee vir ons dogtertjie”.

Gholfdag vir Mihla, van links: Lizan Behrens, organiseerder; Yolanda Bredenkamp, organiseerder; Regard Moolman en Sord Jansen van Rensburg, gholf spelers; en Deirdre Janssen, organiseerder.
Die dames betrokke by die registrasie en organisering van die gholfdag, van links: Berna le Roux, Deirdre Janssen en Janca Pelser.
Vriende van die Engelbrecht-gesin het skouer aan die wiel gesit en ‘n ‘Hart van Goud’ kompetisie aangebied ter fondsinsameling vir Mihla by die Platinum Square Mall in Rustenburg op 30 September.
Mihla Engelbrecht, sonskynkind met ‘n seldsame siekte. Díe foto is ‘n paar maande gelede geneem.
True Blue Training in Rustenburg wil graag van die geleentheid gebruik om vir Yolonda Bredenkamp te bedank om deel te wees as ‘n borg op die gholfdag op 29 September.
True Blue Training in Rustenburg wil graag van die geleentheid gebruik om vir Yolonda Bredenkamp te bedank om deel te wees as ‘n borg op die gholfdag op 29 September.

 

Share this article with a friend...