Articles
Sport & School News
27 January 2017

Rustenburg – Die begin van elke jaar word gekenmerk deur jong latte wat ontgroening, as nuwe graad 8 leerlinge, moet deurmaak in die gróót skool. By Hoërskool Rustenburg is dit nét so en word die nuwe Rusties met groot opgewondenheid ontvang. Die staaltjies te vertel deur die jongspan laat mens skoon verlang na jou skooldae! 

Só moet die manne van Grease Lightning mos lyk! Díe groep, wie deel uitmaak van vanjaar se Splinters is reg om 2017 by die horings te pak. 
Links agter omhels Allison Theart (linkerkant) en Lee-Ann Spurr. Die jong man in die middel met sy brille en speel-sigaret lui in die mond – egte Grease styl – is Dandré Schoeman. Heelagter regs staan Simeon Odendaal en Marichen Bornman diep in gesprek. Voor hulle staan die latte Edrick van Tonder (links) en Tian Gorrie. Links voor probeer Arno Greyling om Karla Venter se hart te oorwin met sy kitaarklanke, en regs voor maak Nathan Esterhuizen ogies vir Nadia du Plooy.

 “Vriendskap en sterk bande smee,” is hoe Elmarie Geldenhuys, graad 8 graadhoof en kultuurhoof aan die Hoërskool Rustenburg, ontgroening by RHS beskryf. “Hier pak ons alles in goeie gees aan!” Die Rusties se bekendstellingsaktiwiteite rus op drie bene naamlik respek, dissipline en goeie maniere. Basta vir díe wat nog moet leer! 

Bekendstelling by RHS duur slegs drie weke. “Ek por julle aan om by soveel moontlik aktiwiteite aan te sluit,” aldus Elmarie. “Geniet elke oomblik – be-kendstelling by RHS is vét pret!” 

Die Platinum Weekly het die voorreg gehad om met van die leerlingraads-lede en nuwe graad aggies kennis te maak. Klara von Wielligh (matrikulant) verlang na die dae toe sý nog ‘n nuwe Rustie was. “Ons moes sowaar vir die groep matriek seuns staan en sing!” vertel sy grootoog. “Maar jy is net een keer in jou lewe ‘n Splinter!” [graad aggies se bynaam]

Heelagter staan Nathan Fourie (gr12), met agter vlnr; Wilmi Hendrikse (gr12), Lee-Ann Spurr (gr8), Simeon Odendaal (gr8), Marichen Bornman (gr8) en Adi ban Wilke (gr12). In die middelste ry vlnr; Allison Theart (gr8), Dandré Schoeman (gr8), Edrick van Tonder (gr8) en Tian Gorrie (gr8). Voor sit Klara Von Wielligh (g12); en heelvoor graad aggies vlnr; Karla Venter, Arno Greyling,  Nathan Esterhuizen, en Nadia du Plooy.

Nathan Fourie (matrikulant) skerts hoe hy as graad aggie vir ‘n boom moes staan en blaf! “Ons moes toe ook ‘n reëndans doen!” lag hy. “Graag wil ek al ons nuwe graag 8 leerlinge ‘n hartlike welkom heet. Bekendstelling is nie ‘n straf nie, dit is ‘n lekker tyd waar ons mekaar leer ken en saam ‘n band vorm om ons skool na hoër hoogtes te neem.” 

Nadia du Plooy is gedoop ‘Sardientjies’ – haar splinternuwe Splinter-naam. “Die waatlemoen geveg was sover my lekkerste ervaring. Ek moes behoorlik koes om nie soos ‘n waatlemoen te proe en lyk nie!” 

Share this article with a friend...