Articles
Social & Community News
10 November 2017

Rustenburg – Die Rustenburg Kinderhuis by die Rots Kerk kan sowat 100 kinders akkommodeer, maar voordat díe doelwit daargestel kan word, is daar nog baie klowe om te kruis. Die span van Rustenburg Kindersorg is sterk skouer aan die wiel met verskeie projekte wat geloods word, maar kan die taak nie alleen behartig nie.

Daarom het Roxy van den Berg, president van die Kindersorg Vrywilligers Klub (KVK), díe klub daargestel om hart en siel in te spring om beide die Rustenburg Kinderhuis en die Rustenburg Kindersorg by te staan.

“Ons is opreg dankbaar teenoor Tersia Theunissen, eienaar van Blikkies vol Liefde, wat besluit het om hul kunsuitstalling te vergroot dat ‘n vlooimark ook aan die orde van die dag sal wees. Die vlooimark se opbrengste sal as fondsinsamelingsprojek vir die Kinderhuis van stapel gestuur word,” sê Roxy in ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant.

“Die dag belowe baie pret, maar vir nou is dit belangrik dat belangstellendes solank hul stalletjies boek,” sê Roxy. Stalletjies is beskikbaar teen R100 ‘n stalletjie.

Blikkies vol Liefde, op die hoek van Helen Joseph en Loeriestraat, bied die vlooimark en kunsuitstalling aan op Saterdag, 18 November vanaf 08h00 tot 15h00.

Toegang beloop ‘n blikkie kos of R10 en díe word aan Rustenburg Kindersorg gegee.

KraftyKids bied die kunsuitstalling aan. Akademie vir kuns en kreatiwiteit teen bekostigbare pryse vir genotvolle kreatiwiteitsklasse vir alle ouderdomme is die leuse van KraftyKids. Indien jy hier betrokke wil word, skakel Anneke Richter gerus by 084-588 8307.

Vir enige navrae oor die stalletjies, die dag se gebeure, of hoe om self ‘n bydrae te maak, skakel Tina by 076-245 7768 of Roxy by 082-441 6170.

 

Van links: Cecile Janse van Rensburg, maatskaplike werker van Rustenburg Kindersorg; Roxy van den Berg, president van die KVK; Deidre Janse van Vuuren, ook ‘n maatskaplike werker van Rustenburg Kindersorg; en Doreen Chatukuta van Rustenburg Kindersorg.

 

Die Rustenburg Kinderhuis by die Rots Kerk.

Share this article with a friend...