Articles
Sport & School News
08 April 2024

Rustenburg – In ‘n indrukwekkende vertoon van toewyding en sportmanskap het Hoërskool Rustenburg se o/16A-hokkie dogterspan hul seisoen voorbereidings op ‘n hoë noot begin. Gedurende die skoolvakansie, vanaf 21 tot 23 Maart 2024, het hierdie talentvolle jong dames ‘n intensiewe oefenkamp bygewoon wat spesifiek gefokus het op die verbetering van hul fiksheid en hokkie vaardighede.

Die span het nie daar gestop nie; hulle het voortgegaan om hul vaardighede en spanwerk te verfyn deur ‘n toer na Pretoria te onderneem, wat plaasgevind het vanaf 25 tot 27 Maart 2024. Hierdie ervaring was nie net ‘n geleentheid om as ‘n span te groei nie, maar het ook waardevolle blootstelling gebied. Een van die hoogtepunte van die toer was die unieke kans om saam met Edith Molikoe te oefen, die kaptein van die Universiteit van Pretoria (TUKS) se eerstespan dames hokkie vir die afgelope drie jaar. Edith, wat ook ‘n gevierde nasionale speler is en oppad is na haar tweede Olimpiese Spele in Parys later die jaar, het waardevolle insigte en inspirasie aan die jong Rusties gebied.

Met hierdie grondige voorbereiding agter die rug, is Hoërskool Rustenburg se o/16A-hokkie dogters span nou vol vertroue en gereed om die uitdagings van die Noord Wes Universiteit (NWU) prestige-reeks, sowel as die Noordwes-liga, wat voorlê, aan te pak. 

Die sukses van hierdie voorbereidingsfase kan grootliks toegeskryf word aan die toegewyde afrigter, Neville Segoe, en spanbestuurder, juffrou Suné van Emmenis, wat onskatbare ure op die veld deurgebring het om die span te lei en te ondersteun.

‘n Spesiale woord van dank word ook gerig aan meneer Colin Mendoza, Gareth Markus, Daniel van der Walt, Marli Visser, Rulene Nieuwenhuysen, en Eric Thiart, sowel as ander ondersteuners en oud-Rusties wat bygedra het tot die span se seisoen voorbereidings.

Foto: Hoërskool Rustenburg se o/16A-hokkie dogters span.

Share this article with a friend...