Donker perde skryf geskiedenis!

Pure vreugde! Hoërskool Rustenburg se Blitzboom-sewesspelers lig die Clover NWU Champion of Champions-trofee triomfantelik ná hul opspraakwekkende sege van 19-17 oor Westville Boys’ High.
Platinum Weekly koerant | Rustenburg – Min mense het hulle as die gunstelinge beskou, maar Hoërskool Rustenburg se Blitzboom-sewesspan het vriend en vyand verstom deur die gesogte Clover NWU Champion of Champions-titel in Potchefstroom te verower op Saterdag 19 September 2026.
Die Rusties, wat deur SuperSport Schools as die toernooi se “dark horses” beskryf is, het hul merkwaardige veldtog met oorwinnings oor Fichardtpark en Northwood begin. Daarna het hulle die rugbyreuse Monument met 24-19 in die kwarteindstryd en Grey Kollege met 17-10 in die halfeindstryd uitgeskakel.
In die eindstryd het die Rusties teen die verdedigende kampioene, Westville Boys’ High, te staan gekom. Shayloh Cox en Junaid Stevens het vroeg gewys hoe gevaarlik die Rusties met bal in die hand kan wees, maar met die telling op 17-12 in Westville se guns en die horlosie wat vinnig uitgeloop het, was daar geen ruimte vir foute nie.
Die Rusties het egter geweier om tou op te gooi. Met sekondes oor is die bal vinnig deur die hande gestuur voordat Dian Huisamen by die pale gaan druk het. Die doelskop het deur die pale geseil en die Rusties ’n onvergeetlike oorwinning van 19-17 besorg.
Die toernooi se “donker perde” het uiteindelik die blinkste geskitter. Hoërskool Rustenburg is die 2026 Clover NWU Champion of Champions-kampioen – ’n uitsonderlike prestasie waarop die hele Rustenburg-gemeenskap trots kan wees!
