Articles
Sport & School News
25 September 2020

Rustenburg – AfriForum se Rustenburg-tak was die hoofborg van ‘n suksesvolle fondsinsameling vir laerskole in Rustenburg. Gemeenskapslede kon deur finansiële skenkings hul posisie in ‘n fietsrenkompetisie wat op Saterdag 12 September by Laerskool Rustenburg plaasgevind het, verseker. Die gemeenskapslede het deel gevorm van die onderskeie skole se spanne, naamlik Laerskool Rustenburg, Laerskool Proteapark en Laerskool David Brink.

Die spanne het prysgeld gewen op grond van die tyd wat dit hul geneem het om ‘n afstand van 1,099km af te lê. AfriForum se totale bydrae tot dié projek (wat deel vorm van Solidariteit se Trapsaam-inisiatief) is R30,000.

“Dit is vir ons uiters belangrik om die skole in Rustenburg te ondersteun ná die negatiewe finansiële gevolge van die inperking. Dié kinders is die toekoms van ons gemeenskappe en dit is van kardinale belang dat hul steeds toegang tot gehalte onderwys het. Daarom het ons besluit om R3,000 te borg vir die skool wat eerste eindig en R2,000 vir die tweede skool. Ons het ook R5,000 geborg om voorsiening te maak vir die uitgawes van die dag,” sê  AfriForum Rustenburg-tak voorsitter Chris Trytsman.

“AfriForum se Rustenburg-tak het ook na afloop van die kompetisie ‘n werwingsprojek van stapel gestuur en die skool wat die meeste AfriForum-lede teen einde November werf, sal ‘n verdere R20,000 ontvang om die nood te help verlig,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico Petrus Coetzee.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by dié inisiatief betrokke te raak sodat soortgelyke projekte aangepak kan word om ’n verskil te maak. Raak betrokke by dié inisiatief. SMS ‘Rustenburg’ na 45351 (R1) of bel vir Chris Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting.

AfriForum persverklaring

AfriForum verteenwoordigers saam met die betrokke skole se skoolhoofde en personeel.
Die skole het oor die 10,99km afgelê op die spinfietse.

 

Share this article with a friend...