Articles
Social & Community News
10 May 2022

Rustenburg – Kan jou kleuter ‘n gediggie of twee opsê? Wanneer laas het jy self ‘n gedig gelees? Sommer uit ‘n ou boek en wanneer jy hom oopslaan, die reuk jou herinner aan woorde wat praat met die siel? Is poësie besig om uit te sterf? 


Dié vrae en meer is beantwoord by Rietfontein Grootfontein Kromrivier Buffelsfontein (RGKB) se poësie vertoning en kunsuitstalling by Tarentaal Teater op Donderdagaand 28 April. Gaste is verwelkom met ‘n warm beker sop of twee, bedien met varsgebakte brood. 


Plaaslike digters het hul gedigte ingeskryf vir die kompetisie en by die geleentheid is die gedigte voorgelees en wenners aangekondig. Baie digters was self in die gehoor en het toegehoor hoe mense hande klap en hul talent waardeer. Elke woord was ‘n woord ryker vir die gaste. 


Voorlesers was Ester Haywood, Lania Benecke, Chris Pieterse, Mirandie Visser en Rina du Plessis. 
Die fantastiese aand is moontlik gemaak deur die spanwerk van organiseerders Mirandie Visser en Rina du Plessis, (vrywilligers van die RGKB). 


Die Rietfontein Grootfontein Kromrivier Buffelsfontein (RGKB) landelike beheersvereniging sal die fondse vir plaasveiligheid, pad-opknapping, brandbestryding, kospakkies, en dies meer aanwend in die area. RGKB se leuse, vorentoe met integriteit, voeg beslis daad by woord.


Die inskrywingsgelde van die kompetisie vir plaaslike digters en kaartjies by Tarentaal Teater was ter fondsinsameling vir RGKB. 


Die eerste “gedig” wat vir die aand voorgelees was, is Psalm 45:1-2. 
Bruilofslied vir die Messías.


1 Vir die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” Van die kinders van Korag. ‘n Onderwysing. ‘n Lied van die liefde.
2 My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.


Die plaaslike kunstalent het beïndruk en jy kon ‘n skildery of twee aankoop. Wie weet – dalk sal dit oor ‘n paar jaar ‘n groot naam wees! Bargain Books het pryse aan die wenners geborg en het self ook ‘n stalletjie ten toon gestel. 


Een van die hoogtepunte was beslis Chris Coetzer se sang vertoning. “Selfs die musiek wat ons voordra is ‘n gedig wat besing word. Sang is poësie waar woorde terug herleef word,” aldus Chris. 
Chris Coetzer is die naam sinoniem met Suid-Afrika se eie Drie Tenore saam met Phillip Kotze en Jannie Moolman.

Wat ‘n voorreg om Chris op ‘n verhoog in Rustenburg te kon hê! Buiten meesterstukke opgevoer het Chris ook gedigte getoonset uit die FAK voorgedra – en almal het lekker saamgesing! Dit het ingesluit: Hansie Slim, Ek het ‘n perd, ‘n blink vosperd, Die Oukraalliedjie, Vat jou goed en trek Ferreira, Daar kom die Alibama en selfs Suikerbossie, ‘k wil jou hê. 


Chris Pieterse, welbekend aan Rustenburg en die Tarentaal Teater het Koos du Plessis musiek voorgedra en staaltjies van sy en Koos se jong jare gedeel met die gehoor. 

Dankie aan die volgende: 

  • Pieter Germishuys en sy span by Tarentaal Teater (vir die onthaal en sopgereg) 
  • Chris Coetzer 
  • Chris Pieterse
  • Stook Koffie Roostery (vir die plakkate)   
  • Jessie’s Wedding and Party Table Ware (vir die dekor) 
  • Lenteflooi in Kroondal (vir die dekor)
  • Calavi Flowers (vir blomme teen afslag en ook een van die pryse) 
  • Jo-Anne (sy het boeke van die Rietfontein Biblioteek kom uistal) 
  • Gina en haar span van Bargain Books 
  • Schalk (by Bietjie Vrede)
  • Klankman: Bryon Coetzer (Chris Coetzer se seun)
  • Annerle Barnard skenk haar boek (Sindikaat) ook as prys
Van links: Mirandie Visser, Chris Pieterse, Chris Coetzer, Drienie Joubert Kelly en Rina du Plessis
Ester Haywood en haar kleinkind Liané Visser. Liané (4) het self ook ‘n gedig kom opsê.  
Hier vertel Chris Pieterse vir ons ‘n storie oor Koos du Plessis en hoe lekker hulle naby die Kloof gekuier het – en hoe die prag-area sy woorde beïnvloed het. 
Die atmosfeer was perfek saamgestel om poësie, kuns en die beste geselskap te waardeer

#FosteringASenseOfCommunity 

Share this article with a friend...