Articles
Social & Community News
26 September 2023

Rustenburg – Op Sondag 17 September 2023, het Dominee Willem Pretorius sy hartroerende uittreepreek by NG Proteapark gelewer. Die diens was in ‘n lighartige trant, wat spreek van die wyse waarop die gemeente hom deur die jare leer ken het. Die Pretorius-gesin het hulle tas gepak vir ‘n nuwe avontuur in Somerset Wes, Weskaap. In die 11 jaar wat hy in Rustenburg deurgebring het, het Ds. Willem ‘n merkbare impak gemaak. Hy het sy loopbaan as ‘n jong dominee by NG Rustenburg Suid-gemeente begin. In 2014 het hy sy beroeping na NG Proteapark aanvaar. Een jaar vantevore, in 2013, het hy die knoop deurgehak met sy pragtige lewensmaat, Jessica, wat ‘n private tandarts is. Hulle is geseënd met twee stralende dogters, Anje en Miané.

Die egpaar deel die onuitwisbare impak wat hulle dogters op hulle lewens gehad het. “Ons het geleer dat ware geluk in eenvoud gevind word. Die belangrikste les in ons huwelik is die besef dat ons elkeen uniek is, maar dat ons mekaar se spesiale gawes nodig het,” het Jessica gesê.
Ds. Willem het ‘n besondere liefde en passie vir mense. “Dit was vir my ‘n seëning om hierdie liefde as ‘n roeping in Rustenburg uit te leef,” het hy gedeel. “Die gemeenskap van Rustenburg het ons gewys hoe uniek elke persoon is – elkeen met ‘n eie storie en gawes. Dit was veral duidelik toe ons die ware gawes en omgee van die gemeenskap ontdek het. Deur hulle gebede en dade het ons geloof só versterk dat ons hier weggaan met ‘n onwrikbare oortuiging van Jesus se liefde,” voeg die gesin by.

In sy laaste boodskap moedig Ds. Willem die gemeenskap aan: “Laat ons verskille ons nie verdeel nie. Soek die skoonheid en gawes in elkeen. Moenie vasval in kleinlikheid of verskille nie, maar wees ‘n weerspieëling van Jesus vir mekaar, soos die gemeenskap vir ons ‘n weerspieëling was.”

Foto: Dominee Willem Pretorius saam met sy vrou, Jessica, en hulle twee pragtige dogtertjies, Anje en Miané.

Share this article with a friend...